Previous chapter

OMSENDBRIEF October 2019

"Jesus Christus is dieselfde gister, vandag en tot in ewigheid" 

 (Hebr. 13:8) 

 

Ek groet al die broeders en susters hartlik in alle lande, in die naam van die HERE Jesus Christus met die Woord uit Openbaring 1 verse 1-3: 

"Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het, 

wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus — alles wat hy gesien het. 

Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby". 

In Openbaring 22 lees ons: 

"En hy het vir my gesê: Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig; en die HERE, die God van die heilige profete, het sy engel gestuur om sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur

Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar". 

Soos ons in die eerste vers in die eerste hoofstuk lees, stuur die HERE Sy engel na Johannes op die eiland Patmos, om aan Sy knegte alles te openbaar. Die besondere betekenis hier lê in "die Woord van God", "die getuienis van Jesus Christus" en "die woorde van die profesie ". Dit is baie belangrik vir almal om ag te slaan op dit wat in die Heilige Skrif geskryf staan. In die laaste hoofstuk vind ons weer die Woorde: "… om sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur". 

In hoofstuk 22 sê die HERE twee keer: "Kyk, Ek kom gou …" (verse 7+12). Die tweede koms van Christus — dit wil sê, die Wederkoms van Christus — is die belangrikste onderwerp vir ons. 

Hierdie Omsendbrief handel nie oor die vele onderwerpe aangaande die eindtyd profesieë nie, maar veral oor die nabye tweede koms van Christus. Met Sy eerste koms het Johannes die Doper na vore getree as die stem van een wat roep in die woestyn (Jes. 40:3), deur wie se boodskap 'n volk vir die HERE voorberei was. So het die engel aan sy vader Zacharias vooruitgespreek: "En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die HERE hulle God. En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die HERE 'n toegeruste volk te berei" (Luk. 1: 16-17). 

Die Nuwe Testament begin met die vervulling van die beloftes uit die Ou Testament, en dit bly geldig tot aan die einde van tyd. Paulus het dit soos volg aan ons oorgelaat: "Paulus, 'n dienskneg van Jesus Christus, 'n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God — wat Hy tevore beloof het deur sy profete in die heilige Skrifte" (Rom. 1: 1-2). 

Ons moet nou die beloftes ervaar wat in ons tyd vervul moet word. Wie het in ons tyd 'n direkte roeping en kommissie? Wie moet, volgens Sy belofte, hier voor die wederkoms van Christus, die onveranderlike boodskap van God bring? 

Dit is nou 86 jaar sedert die getroue HERE, op 11 Junie, 1933, aan broeder Branham die besondere opdrag gegee het, om die boodskap te bring wat die Wederkoms van Christus moet vooruitgaan. Die man van God het in die Ohio-rivier gestaan en gedoop, net soos Johannes die Doper in die Jordaan-rivier gedoop het. Toe hy Jesus gedoop het, het daar 'n stem uit die hemel geroep (Matt. 3:17). 

Broeder Branham was hierdie woorde uit die hemel uit toegeroep: "Kyk op! Kyk op!". En toe hy opkyk, sien hy die bonatuurlike wolk van lig neerdaal wat sigbaar was aan almal teenwoordig en hy hoor toe die woorde wat ons al soveel keer aangehaal het. Van die 21 aanhalings sal ons nog 'n maal drie daarvan weer herhaal, om die belangrikheid van die presiese bewoording van die goddelike kommissie te beklemtoon: 

"Soos Johannes die Doper die eerste koms van Christus vooruitgestuur was, so sal jou boodskap die tweede koms vooruitgaan, die hele wêreld in" (14 Julie, 1963). 

"Ek sal dit waarskynlik nie doen nie, maar hierdie boodskap sal Jesus Christus aan die wêreld voorstel. Want, 'soos Johannes die Doper gestuur was om die eerste koms vooruit te gaan, so sal die boodskap die tweede koms vooraf gaan'. Ek weet dit sal so wees. Die boodskap sal voortgaan" (29 Desember, 1963). 

"'n Stem het gesê: 'Soos Johannes die Doper die eerste koms van Christus vooruitgestuur was, so sal jou boodskap Sy tweede koms, die hele wêreld vooruitgaan'" (19 Februarie, 1965). 

Laat ons dit nog 'n maal sê: Toe die tyd aangebreek het vir die eerste koms van Christus, het die bonatuurlike gebeur. Die Engel Gabriel het die geboorte van Johannes die Doper aangekondig (Luk. 1: 11-20). Ses maande later kom hy na Maria en kondig toe die geboorte van die Verlosser aan (Luk. 1: 26-38). 

Dit versterk ons in ons geloof om te weet, wat die getroue God in ons tyd gedoen het: Die 11de Junie, 1933, was die dag, wat God bestem het om die boodskap vir die laaste tydvak voor die beloofde Wederkoms van Christus, aan te kondig. Ons hoef nie hier weer op al die besonderhede in te gaan nie; dit het ons menigmale in die afgelope Omsendbriewe gedoen. 

Die bediening van die beloofde profeet vanuit Maleági 4 verse 5 & 6, Matthéüs 17 vers 11 en Markus 9 vers 12, is 'n ervare realiteit. Deur sy verkondiging het alle verborgenhede, alle bybelse leringe, eintlik die hele raad van God, tot met die opening van die sewe seëls, bekend geword. 

Op 24 Desember, 1965, het die getroue God Sy dienskneg en profeet na Hom geroep, daar hy sy bediening ongetwyfeld voleindig het. Sedertdien is die suiwer Woord-boodskap volgens die wil van God dwarsdeur die wêreld gedra.

 

Next chapter