Previous chapter

Christus en Sy Gemeente in Profesie

Hierdie is waarlik 'n wonderlike tydperk in die geskiedenis van die mensdom. Op elke gebied is daar gedurig nuwe ontdekkings. Enorme vooruitgang is gemaak – die ongelooflike het 'n werklikheid geword. Niks blyk meer onmoontlik te wees nie. Hierdie geslag het die oorgang vanaf die tyd van perdekarre tot die era van ruimtevaart gesien. Almal probeer om tred te hou met die tye. Maar nou ontstaan ​​egter die groot vraag: het ons tred gehou met die dinge van die koninkryk van God? Wat van vooruitgang in die geestelike ryk? Het ons die pas bygehou met die Heilige Gees toe die Here ons die hoogste hoogtes wou laat uitstyg?

Miskien is u 'n Christen – dankbaar vir dit wat God gedoen het in die verlede. Miskien kyk u selfs met verwagtende verlange na wat gaan plaasvind in die toekoms; maar die uiters belangrike vraag is: besef u dat die Bruid van Christus nou deur die Heilige Gees gelei word tot volmaaktheid?

Die Gemeente van Jesus Christus is gestig op die dag van Pinkster, toe God self die patroon van ware christelikheid daargestel het vir die ganse heidendom. Hy erken niks anders as Sy Woord nie. Elke individu en elke kerk moet hulle leringe en hul basiese oortuigings en oorlewing vergelyk met die leringe van die vroeë Gemeente – elke gelowige het ‘n persoonlike bonatuurlike ondervinding gehad met Christus en was deur die Heilige Gees in die Gemeente geplaas as seuns en dogters van God.

Ongelukkig moet ons sê dat alhoewel die Gemeente so 'n heerlike begin gehad het, het vleeslikheid geleidelik in die geledere van die verlostes ingesluip. Mense het begin koud en formeel word en hul eie belydenisse en werkheiligheid geleer. Met verloop van tyd het onverskilligheid ingetree en het die meeste van die christendom begin om te onttrek vanaf die pad van die lig, tot geestelike duisternis. Maar God waak oor die wat aan Hom behoort. In elk van die sewe kerk-eeue het Hy ‘n boodskapper gestuur om weer die vuur van God opnuut aan te steek. Die magtige Heilige Gees het in hul midde gewerk en hulle gelei in die beloofde Woord van hul tyd.

"Maar ons, broeders, is soos Isak, kinders van die belofte" (Gal. 4:28). Die kinders van die belofte ontvang die Woord van die belofte en word verseël deur die Heilige Gees van die belofte (Efé. 1:13).

Die geestelike herlewings wat in die afgelope tyd oor die nasies gesweef het was tye van verfrissing vanaf die Here, waardeur die Here Sy kinders se aandag gevestig het op die vervulling van die beloofde Woord. Die geloof van Abraham en sy hele nageslag het altyd berus in die belofte wat God gemaak het.

God het nog altyd Sy eie genadiglik gelei en hul weë bestuur. Selfs tydens die donker eeue kon hulle die verskriklike vervolging en marteling verduur, want God was met hulle. Met dankbare harte kan ons terugkyk na die dae van die Hervorming en die herlewing wat gevolg het, waardeur God Sy eie stap vir stap na duideliker lig gelei het. Ons kan egter nie bly staan by 'n besoeking van die verlede, waaruit baie verskillende denominasies ontstaan ​​het nie. Die Gees van God is nooit beperk tot die grense van 'n organisasie nie. Hy beweeg altyd verder en toon Sy krag aan al die ware gelowiges, totdat hulle gegiet is in die geseënde vorm van die Here Jesus Christus. Binnekort sal Hy terugkeer om ‘n Woord-Bruid te kry wat sonder vlek of rimpel is.

Aan die begin van die 20ste eeu was daar 'n magtige uitstorting van die Heilige Gees; die gawes was weer aan God se kinders herstel. Regoor die wêreld het mense ‘n tydperk van geestelike verkwikking uit die hoogte beleef. Ouer mense in elke land kan getuig van die kragtige besoeking van die Almagtige God. Maar selfs ná hierdie tydperk het Hy nie Sy eie gefaal nie. Baie van hulle is nog lewende getuies van die kragtige redding en die herlewing van genesing wat die Tweede Wêreldoorlog gevolg het. In Sy groot genade en liefde het die Here Sy kinders aanhoudend aangemoedig deur die Heilige Gees, om hulle aandag te trek na die beloofde Woord vir ons tyd. Volgens Sy Woord, wou Hy ook lig werp op Sy ewige plan, om dit wat verborge was deur die eeue heen, te openbaar.

Die laaste beweging begin onder die direkte roeping van die Almagtige God aan William Branham in Mei 1946. Die unieke en buitengewone heils- en genesings-bediening, het die massas grootliks beindruk. Die Here self het Sy bediening bevestig voor die oë van derduisende mense regoor die wêreld. Toe hy egter die ware leringe van die Bybel bring, het die massas dit verwerp. Dit was duidelik dat hulle net agter die brode en visse aan was. Maar die groep ware volgelinge van Christus het weer vernou en slegs 'n minderheid het die profetiese bediening in sy geheel omhels en die dag en die boodskap erken – hulle is gereed om die Here te volg waar Hy hulle ookal heen lei.

Sedert die dae van die apostels was die Woord van God nie in sy volheid verkondig soos nou in hierdie herlewings-herstelling nie. Jesus Christus openbaar nou Sy krag en bewys dat Hy in die ware sin van die Woord dieselfde gister, vandag en tot in ewigheid is. Ons wat die voorreg het om te lewe in hierdie laaste kerk-eeu, het die lig gesien en is uit geestelike duisternis gebring. Die Woord-Bruid, die uitverkorenes van God, is besig om terug te keer na die oorspronklike leerstellinge van die Bybel, onder die leiding van die Heilige Gees.

Op hierdie stadium het ons die heel laaste dae van die volledige herstel van die Gemeente van die lewende God bereik, soos in Joël 2:25 belowe: "En Ek sal julle vergoed die jare ...". Handelinge 3:21 lui eenvoudig dat die hemel Christus moet ontvang "… tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete". Jesus Christus sal terugkeer vir ‘n Bruid wat perfek terug herstel is na Sy Woord.

Wanneer God ookal ‘n geestelike herlewing stuur, slaan Sy volk ag op die goddelike oproep en skei hulle van alle ongeloof, alle onverskilligheid en van vormdiens. Hulle beweeg aan, soos die Heilige Gees lei.

Nog nooit tevore in die geskiedenis was daar sulke groot-skaalse evangelistiese en godsdienstige aktiwiteite soos vandag nie. Ons het nooit voorheen die middele en geleenthede gehad soos ons nou het nie. Maar ook was dit nooit moeiliker om die regte besluite te maak soos nou nie – dit omdat reg en verkeerd nou hier aan die einde so na aan mekaar is. Jesus sê in Matthéüs 24:24 dat misleiding in die eindtyd so groot sal wees dat selfs die uitverkorenes mislei sou word as dit moontlik was. God Sy dank dat dit nie moontlik is nie!

Ons hoor so baie van Christus en die Gemeente, maar waar kan ons Hom vind soos Hy in die Bybel aangebied word? Waar is die Gemeente soos dit aan ons beskryf word in die Skrif? Beweer elke christelike denominasie dan nie dat hulle die ware Gemeente is nie? Word alle godsdienstige aktiwiteite dan nie gedoen in die naam van Jesus Christus nie? Almal eis dan dat hulle reg is, maar ‘n blote eis regverdig niemand nie. In God se oë is daar net die een en enigste ware Gemeente – "Die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, 'n pilaar en grondslag van die waarheid" (1Tim. 3:15), die woonplek van die Allerhoogste. Dit is net "een Here, een geloof, een doop" (Efé. 4:5). Alle lede van die liggaam van Christus is aan mekaar verbind en met Hom (1Kor. 12:12). Ons moet almal onsself onthou van enige pri-     vate interpretasies en God toelaat om self deur Sy Woord te spreek. Die verborge skatte word ontdek en geopenbaar deur die God-gegewe profetiese bediening in ons tyd. Ons besef dat die koms van die Here Jesus Christus baie naby is en ons kan nie bekostig om te luister na die baie stemme wat ons omring nie. Ons moet luister en gehoorsaam wees aan die geroep van die Goeie Herder na Sy skape, en dan moet ons Hom volg. "Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan" (Matthéüs 4:4). Nie net sekere dele wat pas in ons eie konsep nie, maar van elke Woord van God!

Tot vandag toe is die Bybel die enigste gesag en riglyn in alle geestelike sake. Wanneer dit die hantering van die woord van profesie behels, betree ons heilige grond. Trek tog u skoene uit, wanneer die Here praat!

Next chapter