Previous chapter

Omsendbrief Desember 2015

Ek groet u almal heel hartlik met die woord uit Handelinge 26, vers 22: "Maar omdat ek hulp van God verkry het, staan ek tot vandag toe en getuig aan klein en groot, en spreek niks buiten wat die profete en ook Moses gesê het dat sou gebeur nie". Amen! Dit het so gebeur, in besonders met die eerste koms van Christus, toe daar meer as 100 profesieë vervul was, en dit gebeur ook nou, soos die laaste profesieë vervul word.

Ons weet, dat God 'n verlossingsplan het wat Hy deur Sy profete aangekondig het, wat in die dag van verlossing, waarin ons nou tans leef, tot uitvoering gebring word: "want die Here van die leërskare het dit besluit — wie sal dit kan verydel? En Sy hand is uitgestrek — wie sal dit kan afkeer?" (Jes. 14:27).

Paulus het 'n roeping gehad (Handelinge 9) en dus ook 'n direkte verantwoording voor God, wat uitgedruk word in al sy briewe. Soos hy kon sê: "Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie" (Hand. 20:27), so is dit ook in hierdie tyd, dat God se hele verlossingsplan uit die mond van die geroepene aan ons nuut daargelê, en deur die Heilige Gees geopenbaar word. 

Volgens God se belofte in die Ou en ook in die Nuwe Testament (Mal. 4:5; Matt. 17:11), het die getroue Here, hier voor die koms van die hemelse Bruidegom 'n profeet gestuur, om weer alles in Sy Gemeente te herstel en hulle weer na hul oorspronklike stand terug te bring. 

Kom ons kyk na die bybelse patroon van 'n goddelike roeping en sending: 

Moses kon sê: "Die Ek Is het my na julle gestuur" (Ex. 3:14), want die Here self het vir hom gesê: "Ek wil jou na Egipte stuur!" (Ex. 3: 10-12; Hand. 7:34).

Jesaja antwoord op die vraag van die Here "Wie sal Ek stuur?": "Hier is ek, stuur my" (Jes. 6:8). Aan Jeremia het Hy gesê: "Moenie sê: Ek is jonk nie; want na wie Ek jou ook al stuur, moet jy gaan; en wat Ek jou ook al beveel, moet jy spreek" (Jer. 1:7).

Die Here het Paulus opdrag gegee om op weg te gaan, "want Ek sal jou ver wegstuur na die heidene" (Hand. 22:21), "... om hulle oë te open" (Hand. 26: 17-18). Dit het geskied deur die proklamasie van die Woord.

In Johannes 13, vers 20, beklemtoon die Here Jesus: "wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het". In Johannes 20, vers 21, het die opgestane Here aan Sy dissipels gesê: "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook".

Hy self lê meer as 20 keer vanaf Johannes 4, vers 34, tot Johannes 17, vers 8, as Seun van die mens getuienis af, dat Hy gestuur was.

Wat Sy koms betref, het die Here in Maleagi 3, vers 1, gesê: "Kyk, Ek stuur My boodskapper … voor My uit ... ”, en in Maleági 4, vers 5 het ons die volgende belofte: "Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía ..."

Oor sy roeping het Broeder Branham, in sy 1,200 preke, waarskynlik 'n totaal van tweehonderd keer Maleági 4, vers 5 genoem, waar die Here self gesê het: "Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek ...". Hierdie Skrif was in ons tyd vervul. Deur dié beloofde bediening kom alles wat in lering en handeling oorspronklik in die Gemeente was, tot herstelling; die Here het dit bevestig in Matthéüs 17, vers 11: "Elía kom eers en sal alles herstel".

Johannes die Doper het ook geweet watter Woord van God op hom van toepassing was. Daarom kon hy sê: "Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit! soos Jesaja (hoofstuk 40:3), die profeet, gesê het" (Joh. 1:23). In Matthéüs 11, vers 10, dui die Here Jesus self Sy bediening aan: "Want dit is hy van wie daar geskrywe is (Mal. 3:1): Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak".

In hierdie daarlegging gaan dit nie oor die bedieninge wat God in die Gemeente geplaas het nie, naamlik apostels, profete, herders, leraars en evangeliste, nie eens oor die ouderlinge en diakens nie, en ook nie oor die geestelike gawes in die Gemeente nie, maar dit gaan oor die laaste sending, die laaste boodskap wat nie net in 'n plaaslike gemeente nie, maar ook wêreldwyd verkondig moet word, waardeur die Gemeente van Jesus Christus na hul oorspronklike stand teruggebring word.

So gewis soos Johannes die Doper kon getuig: "... maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê ..." (Joh. 1:33), kon Broeder Branham sekerlik ook getuig oor wat op 11 Junie in 1933 aan hom gesê was: "Soos Johannes die Doper die eerste koms van Christus vooruit gestuur was, word jy ook gestuur met 'n boodskap, wat die Wederkoms van Christus vooraf sal gaan!". Hy kon getuienis aflê van die direkte sending en van die bonatuurlike ervaring op 7 Mei, 1946, toe hy in die bediening aangestel was. Die engel wat in 'n bonatuurlike lig die kamer betree het, het voor hom gaan staan ​​en gesê: "Moenie vrees nie. Ek is vanaf die teenwoordigheid van die Almagtige God aan jou gestuur!". Hy het hom instruksies gegee en onder meer gesê: "Soos Moses twee tekens gegee was, word jy ook twee tekens gegee". Dit was 'n bonatuurlik-bevestigde bediening deur buitengewone siekte-genesing. Die genesingswonder was om die aandag van die mense direk na die teenwoordigheid van God te trek en na die boodskap wat hy moes bring.

Oor die spesiale bediening van Broeder William Branham, het ons baie keer gepraat en geskryf. As oog- en oorgetuie, kan ek bevestig dat God hom as evangelis en profeet soos niemand anders in ons tyd gebruik, geseën en die Woord bevestig het. Maar nou gaan dit nie meer oor die periode vanaf 1933 tot 1946 nie, of die gedeelte vanaf 1946 tot 1965, waardeur hierdie man van God deur die spesiale herlewings- en genesings-byeenkomste wat in 12 lande plaasgevind het, op die hele aarde bekend geword het. Dit gaan oor die besondere tydperk waarin ons nou leef. God, wat Sy verlossingsplan vanuit die ewigheid vasgelê het, voer dit tot aan die einde toe volgens Sy wil uit. Die bediening van Johannes die Doper het vir ons onbegryplik geëindig, deurdat hy onthoof was (Matt. 14: 1-12). Broeder Branham het op 24 Desember, in 1965, aan sy beserings beswyk, nadat hy op 18 Desember in 'n ernstige verkeersongeluk was, veroorsaak deur 'n jong dronk bestuurder. God maak geen fout nie. Dit was duidelik, of ons dit nou kan begryp of nie, dat die bediening van Broeder Branham voltooi was, maar die afsondering en voorbereiding van die Bruidgemeente, egter nog nie. Die boodskap moes eers na die hele wêreld uitgedra en aan alle volke, tale en nasies versprei word.

Next chapter