Previous chapter

VOORWOORD

Met die publikasie van hierdie boekie wend ek my op eenvoudige wyse tot die menselike welwillendheid. Ons sal die gebruik van groot woorde doelbewus probeer vermy, so ver as wat dit moontlik is. Die ware krag van oortuiging lê nie in goeie taalgebruik nie, maar in die skeppingskrag van God se Woord. Soos in die begin van die skepping, toe God gespreek en geskep het, gaan dit ook nou om die kreatiewe, die mensdombevrydende Woord en om "die skeiding van die lig vanaf duisternis". By nadere ondersoek, moet daarop gelet word dat, ten spyte van optredes tot die oënskynlike teendeel, "geestelike duisternis die aarde en die nasies bedek", op godsdienstige gebied. Slegs wanneer God self deur Sy Almagswoord in ons lewens kan sê: "Laat daar lig wees", sal daar lig wees. Hy handel altyd op dieselfde manier. Eers nadat Hy die lig daargestel het en dit vanaf die duisternis geskei het, het Hy voortgegaan met Sy skeppingswerk. So is dit met die geestelike skepping, waarin die HERE self as "die Lig" kom om elkeen in hierdie donker wêreld te verlig (Joh. 1). Die tyd het aangebreek vir God se Almagswoord om gehoor te word en dat die waarheid geskei word van die dwaling, want God bring nou Sy Verlossingsplan tot voleinding.

Hierdie inhoud word in die besonder ook gerig aan al die teologiese onderrig-instansies; dit is daar waar die groot verantwoordelikheid is vir die geestelike opleiding van die mensdom. Almal vertrou in die eerste plek op die geleerdes en gesaghebbendes. Dit is geensins die bedoelling om die hoog-geagte leerstellings en gebruike van enige genootskap te verneder nie. As enigiets egter ontstaan wat teenstrydig met die woord van God blyk te wees, kan jy nie die menslike instelling bo die God-gegewe stel nie. Maar dit word gedoen met die nodige respek vir die waardigheid van elke mens, wat onaantasbaar is, so ook dit wat iemand glo. Die waardigheid van God is nieteenstaande verhewe bo menswaardigheid, en Sy Woord neem voorrang bo enige menslike woorde.

As ‘n 1933 geborene, kan ek op 'n ryke ondervindingsskat terugkyk. Sedert my aanstelling in die bediening op 2 April, 1962, het ek in meer as 130 lande onderrig gegee en seminare gehou, insluitend op televisie en groot getalle mense toegespreek. Vir 10 jaar het ek elke Sondag ‘n twintig minute uitsending gehad op Radio Luxemburg. Ek het op die talle vlugte binnelands en buitelands, regoor die wêreld, die geleentheid gehad om bekende persoonlikhede uit verskillende velde – godsdiens, ekonomie, politiek – te leerken. Deur my omvangryke reise het ek 'eerstehandse' insig van die wêreld se grootste gods- dienste.

Ek het ook die geleentheid waargeneem om die internasionale kerkgeskiedenis te bestudeer vanuit die perspektief van verskillende gelowe en denominasies. Ek is daarvan oortuig dat elke persoon die reg het om te glo volgens hul wêreldaanskouing. Die oortuiging van geloof is 'n persoonlike saak, en niemand moet dit op 'n ander afdwing nie.

My taak is om die weg aan te dui wat in die "Boek van boeke" aangewys word. Natuurlik is dit vir elkeen om dit self te vind en te volg. Omdat ek nie verbind is aan enige denominasie nie, kan ek die bybelse leringe vrymoediglik aanbied. Dit is om almal te oortuig van die korrektheid daarvan, aan die hand van "die oorspronklike". In die koninkryk van God word geen dwang uitgeoefen nie, ook nie met leerstellinge nie. Goddelike invloed werk net in diegene wat daarvoor oopmaak.

Hierdie daarlegging sal deur sommige aanvaar word en ander sal dit verwerp. Dis iets waarmee elkeen moet saamleef wat in die publiek optree. Maar ek wil net my opdrag pligsgetrou uitvoer en die res aan God laat wat in staat is om alles in almal te kan vermag.

Dit is noemenswaardig dat daar by God eintlik net een korrekte antwoord is en net een moontlikheid! By die mens is daar baie antwoorde en baie moontlikhede. Watter een daarvan is reg? Ek het besluit om my te bepaal by wat God alleen antwoord en vra daarom, dat dit nie teen my gehou word nie.

Next chapter