Previous chapter

“Jesus Christus is dieselfde gister, vandag en tot in ewigheid”  (Hebr. 13:8)

Omsendbrief Desember 1973

Ek groet alle broeders en susters hartlik in die kosbare naam van ons Here Jesus Christus met die woord van Lukas 21, vers 36: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan”.

Ons leef in ‘n baie onstuimige tyd waarin dinge van wêreldbelang oornag kan verander. Ons neem die gebeure van die laaste dae met groot aandag waar en vind uit dat die tekens van die tye nie meer aan die kom is nie. Voor ons oë sien ons die vervulling van die profetiese woord. Daarom roep ons mekaar toe: “Jesus kom spoedig!”. “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug ...”.

Weereens staan ons op die drumpel van 'n nuwe jaar. 'n Jaar het nog skaars begin, dan is dit gou verby. ’n Liedjieskrywer het geskryf: 

“Hoe vinning gaan die tyd verby, vriend dink daaraan. Spoedig kom die ewigheid, wanneer mens niks meer kan doen nie. 

Niemand is gevra of hy na hierdie wêreld wil kom nie en niemand word gevra of hy hierdie wêreld wil verlaat nie. Om te lewe en te sterf is 'n goddelike moet. Hoe sal ons van hier af gaan, met of sonder Christus? Waar sal ons die ewigheid deurbring? Die ewige lewe is nie onseker nie, want Christus is die ewige lewe. Net hulle wat Hom in geloof aangeneem het, besit dus die ewige lewe. 

Wanneer die einde van die jaar nader kom, raak ons stil en hou ons nadenke. Ons besin oor die goeie en slegte wat met ons gebeur het en oorweeg of ons 'n seën vir ander was. As gelowiges vra ons onsself af of ons met ons dade teen God bestand kan wees. Ons moet te alle tye 'n gesindheid van selfondersoek hê, want die Here kan ons onverwags individueel of gesamentlik wegneem.

Dit is met diepe dankbaarheid dat ons deesdae sien hoe die werk van God sy hoogtepunt bereik. As ons na die afgelope eeue kyk, vind ons dat die bou-struktuur van God soos 'n piramide is. Dit het op 'n breë basis begin en nouer en nouer geword, maar dit het hoër gegaan. In die begin was daar 'n groot aantal, wat die boodskap van God en die werk van die Heilige Gees gevolg het. In die dae van die Hervorming het groot skares in die prediking van die evangelie geglo. Met elke daaropvolgende herlewing het die getal van diegene wat die ware boodskap van God geglo het, afgeneem. Die werk van die Heilige Gees het egter dieper en dieper gegaan.

Op hierdie tydstip verwag ons nie 'n wêreldwye herlewing op ‘n breë basis nie, maar 'n Heilige Gees gewerkte, kragtige herlewing van die Bruidgemeente op 'n bybelse basis. Die Gemeente van die Here moet deurtrek wees van Jesus se karakter, met Sy liefde gevul en toegerus wees met Sy krag. Baie het regverdigmaking deur geloof aanvaar, maar minder het heiligmaking deur die Gees gevolg. Die getal van diegene wat die doop met die Gees ervaar het, was selfs nog minder. Die eindtydboodskap word slegs deur die oorblyfsel van God se kinders aangeneem, die klein kuddetjie op wie die welbehae van God rus. Hulle sien en luister na wat God deur die openbaring van die Gees vir Sy volk sê. Mag ons waardig word om te ontvlug wat ook al oor die aarde gaan kom in hierdie laaste geslag, om voor die Here te staan.

Die sluitsteen word in die Huis van God gelê. Christus moet as dieselfde in Sy Gemeente geopenbaar word. Hy is die Hoeksteen en die Sluitsteen; die Alfa en Omega, die begin én voleinding van ons geloof. Hy voltooi self Sy Gemeente op die dag van Sy heerlike Wederkoms.

Next chapter