Previous chapter

Die Sabbat – ‘n Gebod vir almal?

Te alle tye, wanneer God op ‘n spesiale manier op aarde gewerk het deur Sy Gees, het die begeerte in die harte van Sy kinders opgekom om te lewe volgens die Woord van God en om alles te doen volgens Sy bevele. Die Gees van God wek hierdie verlange in die mens deur die erns van die proklamasie van die Woord. Dieselfde bybel-vrae kom amper altyd op, maar die opinies daaroor verskil heeltemal.

In hierdie ondersoek wys ons die bybelse standpunt aangaande die Sabbat; nie die van ‘n spesifieke geloofsrigting nie. Ons hou uitsluitlik by wat geskryf is in die algehele getuienis van die Bybel. Eerstens moet ons altyd ag slaan op wanneer, vir wie en vir watter doel God ‘n doktriene of ‘n gebod gee. Dit is ook absoluut belangrik om al die Skrifte, wat hoort by ‘n spesifieke onderwerp, in ag te neem.

Na die voleindiging van die skeppingswerk, het God gerus op die sewende dag. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak” (Gen. 2:3).

Ten spyte van die klem wat op die sewende dag geplaas is, het byna tweeduisend-vyfhonderd jare verby gegaan vanaf Adam, deur Henog, Noag en Abraham, voor die wetsgewing, waartydens die Sabbat nog nie eens genoem was nie.

Eers daarna het die Here God oor die Sabbat beveel: "Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig … Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; Maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God; dan mag jy geen werk doen nie ... Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus.      Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig" (Exo. 20: 8-11).

In Exodus 31 verse 12-17 word die Gemeente van Israel drie kere verplig aangaande die Sabbat: "Julle moet sekerlik my sabbatte hou, want dit is 'n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die Here is wat julle heilig ... en die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hul geslagte as ‘n ewige verbond. Tussen my en die kinders van Israel is dit vir ewig ‘n teken ...". Soos ons kan sien het die Here Sy verbondsvolk gebonde gemaak aan die Sabbat op ‘n baie spesiale manier.

So, die Here God het aan Sy volk Israel die sewende dag van die week verordineer as hulle geheiligde rusdag. Hy het ook die sewende jaar aangewys as die "Sabbatjaar" – ‘n jaar van rus vir Israel: "en ses jaar lank mag jy jou land besaai en die opbrengs daarvan insamel; maar in die sewende moet jy dit ongebruik en braak laat lê, dat die arm mense van jou volk kan eet ..." (Exo. 23: 10-11). Net so het God ook aan Sy verbondsvolk, Israel, die vyftigste jaar as ‘n jubeljaar verordineer. Na sewe maal sewe jare, het die jubeljaar gevolg. Op die Versoendag was met die basuin uitgeroep: "Jy moet ook sewe jaarweke tel, sewe maal sewe jaar, sodat die dae van die sewe jaarweke vir jou nege-en-veertig jaar is. Dan moet jy in die sewende maand, op die tiende van die maand, ‘n basuingeklank laat deurgaan; op die versoendag moet jy die basuin deur die hele land laat gaan. En julle moet die vyftigste jaar heilig, en 'n vrylating in die land uitroep aan al sy bewoners. Dit moet vir julle ‘n jubeljaar wees; dan moet julle elkeen na sy besitting, en elkeen na sy geslag teruggaan" (Lev. 25: 8-11). Die sewende dag, die sewende jaar en die jubeljaar het spesiale betekenisse vir Israel.

Soos ons gesien het, het die Here God Sy verbondsvolk van die Ou Testament verplig tot die waarneming van die Sabbat op 'n spesiale manier. Die Here Jesus het elke geleentheid gebruik om te praat met diegene wat op die Sabbat byeengekom het om te aanbid. Hy Homself het ook die Sabbat gerespekteer en geheilig, maar het op die Sabbat genees en gered, want Hy is die Here van Sabbat (Luk. 6:5). “Die Sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die Sabbat nie” (Mark. 2: 27-28). Daarom kon hulle 'n os of ‘n skaap uit die put haal, sou een daarin val (Luk. 14:5). Die apostels het óók elke geleentheid gebruik om die Woord van God op die Sabbat te verkondig (Hand. 17:2; 18:4).

Sabbat beteken "rus", soos Shalom "vrede" beteken. Nadat God die skeppingswerk voltooi het, het Hy gerus en nadat Hy Sy verlossingswerk voltooi het, lei Hy Sy verlostes na Sy rus nl, in vrede met God deur Jesus Christus, onse Here.

Maar die hele volk van Israel, aan wie die wet en die beloftes eintlik behoort het (Rom. 9:4), het jammerlik nie die geestelike betekenis, wat deur die sewende dag uitgebeeld was, besef nie. So spreek die Here: "... Hulle is ‘n volk met 'n dwalende hart, en hulle ken my weë nie; sodat Ek in my toorn gesweer het: Waarlik hulle sal in My rus nie ingaan nie" (Ps. 95: 10-11).

Die volgende teregwysing moes aan die volk van Israel, wat die Sabbatdag as "uiters heilig" gerespekteer het, gegee word, "maar hulle was wederstrewig en het sy Heilige Gees bedroef; daarom het Hy vir hulle in ‘n vyand verander: Hy self het teen hulle gestry" (Jes. 63:10). Maar van die minderheid, wat nie volgehou het in ongeloof en ongehoorsaamheid nie, was daar gesê: "Soos vee wat aftrek in die laagte, het die Gees van die Here hulle na die rus gelei ..." (v.14).

In die brief aan die Hebreërs is die onderwerp oor die Sabbatsrus in die 3de en 4de hoofstukke genoegsaam aandag gegee, met verwysing na Psalm 95 en in vergelyking met die ou-testamentiese verbondsvolk. Uit die lig van die Nuwe Testament haal ons aan: "Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie ... altyd dwaal hulle met die hart. Maar húlle het my weë nie leer ken nie" (Heb. 3: 7+10). Deur hulle ongeloof en ongehoorsaamheid kon hulle egter nie God se rus nie ingaan nie, ten spyte van die feit dat hulle die Sabbat getrou gehou het. Daarom staan dit in Hoofstuk 4 geskrywe: "Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog stand hou, ... want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het … terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, … bepaal Hy weer ‘n sekere dag, – die dag van verlossing (Jes. 49:8; 2Kor. 6:2) – Vandag, as Hy soveel later deur David spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie. Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van 'n ander dag daarná spreek nie. Daar bly dus ‘n Sabbatsrus oor vir die volk van God" (Heb. 4: 1-10). Hier praat dit nie van ‘n "rus op ‘n Sabbatdag" nie, maar oor die Sabbatsrus, die rus van God. Soos God inderdaad gerus het van die skeppingswerk, so rus ook al die kinders van God aan die einde van die werk van verlossing, in Hom.

In Hebreërs 8 vers 7 lees ons: "Want as hierdie eerste een (die verbond) onberispelik was, sou daar nie plek vir ‘n tweede gesoek word nie" En dit is ook geskryf: "Want die wet wat 'n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit … die wat toetree, … tot volmaaktheid lei nie" (Heb. 10:1). Jesus, ons Verlosser, was die antwoord; slegs deur Hom alleen kan ons die doelwit bereik. Hy doen 'n beroep op almal: "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart en julle sal rus vind vir julle siele" (Matt. 11: 28-29).

Met die aanvang van die nuwe-testamentiese Gemeente, in die tyd van genade, wou daar broerders wat gelowig geword het, onder die regulasies van die wet lewe. Die vraag was toe hoe dit toegepas moes word op die gelowiges uit die nasies. In hierdie verband lees ons in Handelinge 15 verse 19 en 20: "Daarom, oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoelik nie, maar aan hulle skrywe, dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is, en van bloed". Vanuit vers 28 sien ons duidelik dat hierdie besluit nie die gevolgtrekking van die apostels en die ouderlinge was nie, maar die van die Heilige Gees, soos daar geskrywe is: "Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge ...".

Paulus skryf: "Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees" (Rom. 14:5). As dit nodig was vir die gelowiges van die nasies, sou die apostels ‘n dag aanwys. Paulus het dit egter aan elkeen gelaat om te besluit: "Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here" (Rom. 14:6). En wie dit doen vir die Here, laat al die ander in vrede!

Die apostels leer nêrens oor die hou van ‘n dag nie. Hoewel Paulus se Briewe gelees is deur beide Jode en heidene van daardie tyd, het hy nie aangedring dat hulle die Sabbat moet hou nie. Vir die Jode was dit in elk geval vanselfsprekend. Die betekenis van die feesvieringe het vir hulle behoue gebly in die Nuwe Testament. So het Paulus gehaas om op pinksterdag in Jerusalem te wees (Hand. 20:16).

So, in die Nuwe Testament gaan dit nie meer om 'n weeksdag nie, maar om 'n blywende vrede met en die ewige rus in God. Ons is nie net na aan God en geheilig vir ‘n dag nie, maar vir ewig. Hy het ons Sy woning en werk van genade gemaak. So het ons van ons eie werke tot rus gekom en ons rus nou in die lewende God. Daarom is dit nou vir ons die "Sabbatsrus" en nie die "rus op die Sabbatdag" nie. In die eerste verbond het die mens fisiese rus nodig gehad op ‘n spesifieke dag; onder die Nuwe Verbond vind ons almal geestelike rus vir die siel, elke dag. Sedert die instelling van die Sabbatdag kan elkeen daarin rus. Maar dit is die ware rus en vrede in God deur Jesus Christus, onse Here.

Na die stigting van die nuwe-testamentiese Gemeente is daar nie 'n enkele verwysing dat die apostels sou voldoen het aan die Sabbatsbevel op die ou manier nie. Paulus het, gelei deur die Gees, die volgende woorde van waarskuwing geskryf: "Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie" (Kol. 2: 16-18). Hierdie teks is baie insiggewend, veral die term "oordeel". Is dit nie so dat diegene wat die Sabbatdag waarneem, ander veroordeel nie? Hulle ontken andere heil in Christus en skryf hulle selfs af as die antichris. Maar volgens die Skrif, was nóg die besnyding (Gal. 6: 15-16, o.a.), nóg die waarneming van die Sabbatdag, van toepassing op gelowiges van die nasies.

Dit is welbekend dat die Here Jesus op die Sabbatdag in die sinagoges en in die tempel, geleer het en die koninkryk van God verkondig het. Ook die apostels, veral Paulus, het hierdie dae van byeenkoms gebruik as geleenthede om aan die mense die Woord van God te verkondig. Paulus het twee jaar lank in Éfese gepreek, eerste in die sinagoges, maar toe ook later in ‘n openbare plek (Hand. 19:8). Die evangelie kan ‘n mens sowel verkondig op ‘n Saterdag en ‘n Sondag en enige ander dag van die week.

Sodra die tyd van genade vir die nuwe-testamentiese Gemeente uitgeloop het, begin 'n nuwe era wat verband hou met Israel; die verordeninge van God met betrekking tot die Vredesryk, sal dan op aarde geld. In Jesaja 66 vers 23 is dit geskryf: "En elke maand op die nuwe maan, en elke week op die Sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die Here". En ook: "En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier" (Sag. 14:16).

Ook dit wat die Here God ingestel het vir die periode van die Vredesryk, word vervul, want daar is geskrywe: "Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie" (Matt. 5:18).

Next chapter