Previous chapter

VRAE WAT GERIG WAS AAN BROEDER EWALD FRANK DEUR PREDIKERS VAN VERSKEIE LANDE

En 'n dienskneg van die HERE moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra. Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie, en hulle weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen (IITim. 2: 24-26).

Hierdie daarlegging gaan oor lewe en dood. In die Woord het ons die lewe; in die interpretasie is dood. Elke interpretasie is 'n strop wat deur die duiwel gemaak is en om mense se nekke gesit word. Hy trek dit nie altyd onmiddellik styf nie, maar hy hou mense gevange, om in sy wil te wees, soos die inleidende bybelteks dit deeglik en duidelik stel.

Noudat ek al meer as 'n halfeeu in die bediening is, het God se genade 'n sekere vertroue by baie broeders regoor die wêreld ingeboesem. Hulle het erken dat God my daartoe bestem het om die ewige boodskap van verlossing aan die volkere van hierdie wêreld te bring. Na Broeder Branham se bediening, is dit nou my verantwoordelikheid om die ware Woord, tesame met alle getroue dienaars, met die mense te deel. Maar soos dit was in die dae van ons HERE, in die tyd van die apostels en profete en te alle tye, so is dit ook nou: daar is dinge, “waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai” (IIPet. 3:16). Al die interpretasies het baie verdeeldheid en 'n groot leerstellige verwarring veroorsaak, ook binne die "eindtyd boodskap" geledere. Predikers wat werklik omgee vir die HERE se volk, is nie bereid om dit langer te verdra nie en het my gevra om die verskillende leerstellige punte uit te klaar. Alle ware kinders van God het die reg om die antwoorde te ken, wat op die Skrif alleen gebaseer is.

Ek het Broeder Branham persoonlik geken en was 'n oog getuie van sy uitsonderlike bediening. In Augustus 1955, het ek vir 'n week lank aan sy byeenkomste deelgeneem. Sedert September 1958, het ek die preke wat hy in die VSA gehou het, op band aan my laat stuur en dadelik begin om dit in Duits te vertaal. Tydens ’n persoonlike gesprek in Desember 1962, het ek vir Broeder Branham gesê dat ek deur oorfone na sy preek luister en dit dan terselfdertyd in Duits vir die gehoor vertaal. In 1963 het hy duidelik dit onthou en daaroor gepraat:

“Die bandbediening is ‘n wêreldwye ding, oral. Ek bedoel dit is ‘n manier hoe God die boodskap deur die heidense lande terug versprei, waar dit vertaal moet word. En in Duitsland, ensovoorts, het hulle die bande gekry en na hul byeenkomste van honderde en honderde mense geneem. Hulle sit dan klein (oorfoontjies) in hul ore en speel dan die band. Net soos ek nou hier staan en praat, staan die prediker dan voor die honderde mense en weergee wat hy hoor op die band in daardie taal, met dieselfde stemtoon. Regoor die wêreld word honderde so gered en gesond, net deur die bande wat gespeel word. Dit is alles in Engels, maar word in baie verskillende tale van die wêreld vertaal (Europa), selfs in stamtale (Suid-Afrika); so verneem ons deur die briewe wat ons van hulle kry” (uittreksel uit die preek, “TESTIMONY”, Shreveport, LA, 63-1128).

Dit is duidelik dat Broeder Branham hiermee verwys het na Sidney Jackson van Suid-Afrika en na my, want ons was die enigstes wat sy preke destyds vertaal het.

In die afgelope 47 jaar het ek nie net een keer nie, maar wel verskeie kere al sy preke geluister, dit gelees en vertaal. Dus kan ek sê dat ek die “eindtyd-boodskap” ken, soos byna niemand anders nie. Net so is ek van my jeug af vertroud met die Woord van God, die Heilige Skrif. Wat my die diepste geskok het toe ek die vraelys wat aan my gegee was deurgegaan het, is dat so min predikers gevra het: “Wat sê die Skrif?”, want die antwoorde wat ek daarop moet gee, kan slegs wees volgens die geskrewe Woord van God; dit is wat vir ewig bly (Jes. 40:8; IPet. 1:23).

Vraag 1: Wat is u houding vandag teenoor Br. Branham se bediening?

Vraag 2: Wat is die eintlike bewoording van die opdrag wat William Branham gekry het?

Vraag 3: Wat is u oortuiging aangaande die “eindtyd boodskap”?

Vraag 4: Korrigeer u die profeet op sekere punte?

Vraag 5: Wat is u Absoluut, die Bybel of die boodskap?

Vraag 6: Leer u anders as wat Broeder Branham geleer het?

Vraag 7: Glo u in die opening van die sewe Seëls?

Vraag 8: Is die sewende Seël ook geopenbaar?

Vraag 9: Glo u dat Openbaring 10, verse 1-7 vervul is?

Vraag 10: Glo u dat Broeder Branham die sewe donderslae geopenbaar het?

Vraag 11: Waarom het Broeder Branham oor die Derde Trek gepraat in verband met die sewe donderslae?

Vraag 12: Waarom het Br. Branham herhaaldelik verwys na Openbaring 10, vers 7?

Vraag 13: Glo u in die bediening van 'n agtste boodskapper?

Vraag 14: Glo u in die ‘Parousia’ lering?

Vraag 15: Het die Seun van die mens volgens Lukas 21, vers 27, alreeds gekom?

Vraag 16: Wat van u bediening? Is dit in die Bybel bevestig?

Vraag 17: Preek u uit die predikinge van Broeder Branham?

Vraag 18: Wat is die geestelike voedsel, Broeder Branham se preke of die Bybel?

Vraag 19: Wie sal die Gemeente van die laaste dae aan die HERE voorstel?

Vraag 20: Hoe reageer u op dit wat oor u gesê word?

Vraag 21: Het Broeder Branham poligamie geleer?

Vraag 22: Wat leer u oor die huwelik en egskeiding?

Vraag 23: Hoe staan die saak met die familie van 'n dienskneg van God?

Vraag 24: Wat van die boek, “The Seven Church Ages”?

Vraag 25: Was die tydsduur van die kerk-eeue aan Broeder Branham onthul?

Vraag 26: Het Broeder Branham geprofiteer dat die wêreld in 1977 sal eindig?

Vraag 27: Het Broeder Branham 'n kalender gesien wat in die jaar 1977 geëindig het?

Vraag 28: Is die Doop van die Heilige Gees dieselfde as die Wedergeboorte?

Vraag 29: Wat van die tentvisioen van Broeder Branham?

Vraag 30: Kan iets wat Broeder Branham in 'n visioen gesien het, onvervuld bly?

Vraag 31: Hoe vergelyk Israel en die Gemeente?

Vraag 32: In watter tydvak leef ons nou volgens God se verlossingsplan?

 

Geliefde broeders in die HERE,
Dierbare kinders van God,

Ek wil dit uit die staanspoor duidelik maak dat 'n lering nie toegepas kan word op 'n enkele Skrif nie. Dit word glad nie gevestig op 'n enkele uitspraak, wat deur die HERE, 'n apostel of profeet gemaak is nie. Dit is 'n goddelike moet, dat alles op twee of drie getuies, op twee of meer skrifgedeeltes (Deut. 19:15), gevestig moet wees. Ons het nie 'n evangelie nie, maar vier Evangelies, wat mekaar aanvul, as bevestiging en tot voltooiing. As iemand, byvoorbeeld, nie die sendingsbevel in sy geheel neem, soos in Matthéüs 28, verse 18-20; Markus 16, verse 15-20; Lukas 24, verse 33-53 en Johannes 20, verse 19-31, geskryf staan nie, dan het so iemand dit nie heeltemal verstaan nie. En wie nie Handelinge 2, vers 38 en al die ander plekke waar hierdie sendingsorde uitgevoer word, kan erken nie, het nog steeds nie volle insig oor hierdie onderwerp nie.

Wie regtig alles oor die geboorte, lewe, bediening, lyding en sterfte, ook oor die opstanding en hemelvaart van ons HERE wil weet, moet al vier die evangelies lees. En wie graag wil weet dat onse HERE Sy dissipels ná die Opstanding vir veertig dae geleer het oor die koninkryk van God, nog voordat Hy hemel toe gegaan het, moet Handelinge 1: 1-3 lees. Daarin vind ons wat nie in die vier Evangelies staan nie, bv. dat onse HERE op 'n wolk die hemel ingeneem is (Hand. 1:9). In vers 11 word vertel dat Hy liggaamlik sal terugkeer op dieselfde manier as wat Hy opgeneem is (Luk. 24: 50-51). In IJohannes 3 staan, dat ons, “as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” Amen!

Wie ookal oor die bekering van Paulus, oor sy sending en oor sy bediening ingelig wil wees, moet nie net Handelinge 9 lees nie, maar ook hoofstukke 22 en 26, om 'n geheelbeeld te kry. En dan selfs IKorinthiërs 15, verse 1-11, want dit was Paulus — nie Petrus nie — wie berig het dat die HERE Jesus ná Sy opstanding op ‘n keer aan meer as 500 broeders verskyn het.

Uit al hierdie voorbeelde is dit duidelik dat dit nie genoeg is om net een bybelgedeelte te gebruik nie, maar om alles daarby in te sluit wat tot dieselfde onderwerp behoort.

Dit geld ook vir wat die apostel Paulus in IIKorinthiërs 11, verse 1-4, geskryf het: Toe Satan, die ou slang, Eva verlei het, het hy net een woord bygevoeg in Genesis 3, vers 1, by wat God die HERE in Genesis 2, vers 16 aan Adam gesê het, naamlik die woord "nie". So het hy hulle dus onder sy direkte invloed gebring en haar gevange geneem onder sy wil. Die vyand sit sy argumente altyd voort oor onderwerpe wat die HERE reeds voorheen behandel het, maar hy hou nooit by die presiese bewoording nie — nooit by die waarheid van die oorspronklike Woord nie. Daar staan geskrywe: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet…” Die vyand het twyfel gesaai en gesê: “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?”. Die byvoeging van een enkele woord by wat God self gesê het, was die giftige byt van die slang. En so het die eerste paartjie afgeskei geword van God en daarmee was die ganse mensdom prysgegee aan die dood. Eerstens saai die Seun van die mens die goeie saad van die oorspronklike Woord, en die vyand volg dan altyd onmiddellik daarna en saai sy eie saad van teenstrydigheid, deur middel van interpretasies (Matt. 13). Dit is hoe hy mense vang en hulle sodoende aan sy wil onderwerp. Dit gaan nou daaroor om bevry te word van die duiwel se strikke, en om teruggebring te word na die wil van God.

Deur die byvoeging en die verkeerde interpretasie van ‘n enkele stelling, is die verleiding aanneemlik gemaak vir menslike redenasies. Daarom moet die waarskuwing vervat in Openbaring 22, verse 18-19, om nie by die profesies in die Woord by te voeg of daarvan weg te laat nie, absoluut ernstig opgeneem word. Andersins is die gevolge vir ewig onom keerbaar. Met elke onderwerp is daar slegs een ware antwoord op elke bybelse vraag, gestaaf vanuit verskeie gedeeltes. Eie interpretasies is altyd die werk van die vyand, wat die resultaat is om van die boom van kennis te eet. Dieselfde geld vir die vele verskillende leringe binne die “eindtyd-boodskap”. As ons alles terugneem na die Skrif, vind ons daarin die een ware antwoord, en so word alle misverstande uitgeskakel. Die aandag van alle predikers en alle gemeentes moet weer in ooreenstemming gebring word met, en in volle respek fokus op die Woord van God, wat die enigste absoluut in die hemel en op aarde is. Broeder Branham se langste preek, nl., “THE SPOKEN WORD IS THE ORIGINAL SEED” (“Die Gesproke Woord is die Oorspronklike Saad”), van 18 Maart, 1962, wat meer as 6 uur lank was, toon duidelik aan, hoeveel waarde hierdie man van God toegeskryf het aan die Woord van God. “Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is daar geen lig in hulle nie” (Jes. 8:20 —King James weergawe).

Daar is weliswaar moeilike stellinge in die Woord van God en ook in die boodskap, byvoorbeeld toe onse HERE destyds gesê het, soos in Matthéüs 10, vers 23 vervat is: “… julle sal met die stede van Israel sekerlik nie klaar kry voordat die Seun van die mens kom nie”, of in Markus 9, vers 1: “Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die koninkryk van God met krag sien kom het nie”. Sulke uitsprake moet in die regte konteks van die heilsgeskiedenis en in die vervulling daarvan gesien word. Die wet en die profete was tot met Johannes (Luk. 16:16). Vanaf daardie tyd word die koninkryk van God verkondig. Op Pinksterdag het dit met krag deurgebreek, soos voorheen deur Johannes die Doper in Matthéüs 3, vers 2 en onse HERE in Matthéüs 4, vers 17, aangekondig is: die Gemeente was in die lewe geroep en die opgestane HERE kon in ‘n verheerlikte vorm daarin wandel. In Openbaring 1 het Johannes die Seun van die mens gesien wandel in Sy heerlikheid in die midde van Sy Gemeente, wat vir ons voorgestel word deur die sewe goue kandelaars.

Die apostel Paulus het homself ingesluit toe hy gesê het: “Kyk, ek deel julle 'n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word” (IKor. 15:51). Ons verwag nou die vervulling daarvan. Die apostel Petrus het gewaarsku daarteen om die moeilik-verstaanbare woorde wat Paulus geskryf het in die Heilige Skrif, te verdraai (IIPet. 3: 15-16). Net so moet niemand dit waag om lering te gee oor die moeilik-verstaanbare stellings van Broeder Branham nie. Hy het byvoorbeeld gesê:

“En wanneer die seëls gebreek is en die verborgenheid is geopenbaar, dan kom die engel af, die boodskapper, Christus, met die reënboog oor Sy kop en plaas Sy voete op land en see. Onthou: met hierdie koms is die sewende engel op die aarde”.

Broeder Branham was op aarde, toe die ‘Engel van die Verbond’ Homself in die bonatuurlike wolk geopenbaar het. Aanhaling:

“Daardie groot Verbondsengel, daardie Een wat saam met Moses in die woestyn was, daardie Een wat na Paulus toe gekom het op die pad na Damaskus, dieselfde Een het toegelaat dat Sy foto saam met ons geneem word; dieselfde Een wat nou die dag in die Life-tydskrif foto was; dieselfde Woord, deur dieselfde God…” (“CHRIST IS THE MYSTERY OF GOD REVEALED”, bl. 85, par 629).

Hy het ook gesê:

“En hier kom Hy terug in die 10de hoofstuk, ná die tyd van die Koms”.

Wat beteken die gesegde “ná die tyd van die Koms?”. Watter koms word bedoel? En wat beteken dit: “ … En hier kom Hy terug in die 10de hoofstuk, ná die tyd van die Koms”, ens., ens.? 'n Bietjie later sê Broeder Branham:

“Hy het 'n Bruid uit die heidene geneem en sal haar hiervandaan in die paleis gaan sit, na die huis van Sy Vader in Heerlikheid, vir die bruilofsmaal en sal daarvandaan wegglip om Homself aan Sy broers, die 144,000, bekend te maak”.

Prediker, slaan asseblief ag op die verskillende uitsprake en plaas dit in die korrekte konteks waarvoor dit bedoel is, en hou op om u eie meninge daaroor te gee! Weet dat geen skrif, geen uitsprake van die apostel Paulus of Broeder Branham, privaat-interpretasie toelaat nie. God is Sy eie uitlegger; Hy waak oor Sy Woord om te vervul wat Hy belowe het. God se volk moet ook ophou om die baie interpretasies te glo wat in omloop is. Die Bruidgemeente moet nou, hier na aan die koms van die Bruidegom, heeltemal in pas gebring word, in volkome harmonie en eenheid; in ooreenstemming met elke Woord van God. Die uur van besluit is hier.

Next chapter