Previous chapter

“Jesus Christus is dieselfde gister, vandag en tot in ewigheid” (Hebr. 13:8)

Omsendbrief Desember 2020

Ek groet alle broeders en susters regoor die wêreld heel hartlik in die kosbare naam van onse Here en Verlosser Jesus Christus, met die Woord uit IJoh. 2:27: 

“En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly”

Mag hierdie woorde diep in elke hart indring en waar word. Profete was onder die direkte salwing en inspirasie van die Heilige Gees en het die hele verlossingsplan in die Woord van God vooraf aangekondig. Dieselfde salwing was op ons Verlosser. Dit was Christus — die gesalfde. In Lukas 4, verse 18-19, het ons Verlosser die teks gelees uit Jesaja 61, vers 1 en die begin van vers 2: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig”. En ons, as ware gelowiges, het dieselfde Gees, dieselfde lering, dieselfde salwing en dieselfde openbaring van Jesus Christus.

Paulus het 'n direkte roeping gehad, was onder die salwing en inspirasie van die Gees van God en was van sy prediking so seker dat hy kon sê: “Enigiemand wat ‘n ander evangelie verkondig, is onder die vloek!” (Gal. 1:8). William Branham, die man van God in ons tyd, het ook 'n direkte goddelike roeping gehad, en ook onder die salwing en inspirasie van die Heilige Gees gestaan en die ewige evangelie verkondig. Ek kan ook dieselfde getuig. So seker as wat die Here God 'n roeping uitspreek, so seker het Hy vertroue in die profete, apostels of diensknegte wie Hy aangestel het in die bediening. Vandag nog is van toepassing wat die Here in Johannes 20, vers 21, gesê het: “Jesus sê toe weer vir hulle: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook”. Tot die goddelike sending behoort ook dit wat onse Here in Johannes 13, vers 20, gesê het: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het”.

In ons inleiding beskryf die apostel Johannes dat die salwing permanent in die ware kinders van God bly. Hy beklemtoon dat geen leuen sy oorsprong in die waarheid het nie (vers 21). Reeds in vers 20 lees ons: “En julle het die salwing van die Heilige en weet alles”. Sy woorde in vers 28 word direk aan ons in hierdie tyd gerig: “En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie” (IJoh. 2:28). Ons wag almal op die openbaring van Jesus Christus en wil dáár wees met Sy wederkoms. Vir ons is die vermaning, “My kinders, bly in Hom!”, van die grootste beduiding. In Johannes 15, vers 5, het ons Verlosser gesê: “...Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie”.

 

Next chapter