Previous chapter

Voorwoord

In hierdie boekie het ek probeer om 'n kort aanbieding oor God en Sy plan vir die mensdom te gee, gebaseer op die Ou en die Nuwe Testamente. Ek gaan hoofsaaklik toespits op die onderwerp van die Godheid. Ongelukkig kon slegs 'n paar gedeeltes in ag geneem word wat verband hou met die spesifieke onderwerp. Dit is nietemin genoegsaam om die leser die geleentheid te gee om die Skrif verder te ondersoek totdat die waarheid met duidelikheid deurkom. 

Net soos die meerderheid van die Jode die reddingsplan van God in Sy profetiese Woord nie verstaan het nie, het die kennis oor Christenheid ook heeltemal verlore gegaan. Soos die Christendom geleidelik bevestig was as ‘n staatsgodsdiens, het dit skeiding gebring tussen die Jode en die Christene. By die derde eeu het hulle heeltemal wegbeweeg vanaf die beginsels soos daargestel deur die apostels, wie natuurlik Jode was. Immers, die Christene het die Jode beskuldig dat hulle die Messias, hul Verlosser, vermoor het, onwetend dat dit deel was van God se Plan. Die Jode, daarinteen, het die kragdadige kerstening weerstaan. Met die vertrek van die Christene uit die Jodedom, het hulle hulself tegelykertyd gedistansieer van die Ou Testament en daarmee die eintlike grondslag van die ware Christen-geloof verlaat. Die besef dat mens nie die Nuwe Testament sonder die Oue kan verstaan nie, was verlore. So het dit gekom dat die teologie van vandag sonder behoorlike fondasie is en as sulks, heeltemal weg is van die Woord van God. 

Dit kan nie langer geduld word nie. Elke opregte soekende mens het 'n reg om te weet wat God in Sy Woord sê. In alles wat Hy gedoen en geleer het, het die HERE Jesus deurgans verwys na die Ou Testament, toe Hy die Skrifte aan Sy dissipels geopenbaar het. So ook het die apostels hulself uitsluitlik beroep op die Ou Testament. Om God en Sy plan te erken, moet mens die brug vanaf die Ou na die Nuwe oorsteek. 

Vir hulle wie skryf oor die Godheid, is dit soms 'n baie ‘warm patat’, want dit is algemeen bekend hoe verskillend God verteenwoordig én verstaan word. Sommige mense glo dat God slegs een persoon is en ander, dat Hy twee is, en ander weer, drie. Oor al die ander opvattinge oor God sal ons hier nie op ingaan nie. Die prentjies wat volg na hierdie voorwoord, illustreer net ‘n paar van die menslike standpunte. 

In die tyd van die profete en later ook in die dae van die apostels, was daar geen spekulasie oor God nie. Toe mense die Bybelse grondslag verlaat het en menslike denke prioriteit gegee het, het die leiding van die Heilige Gees verlore gegaan. Die ‘steen-des-aanstoots’ was en is nog steeds Christus. Dit blyk dat die ‘Eenheid’ mense, oftewel die ‘Unitarians’, wie in een God glo, die goddelikheid van Jesus Christus verwerp. Daarteenoor staan die Drie-enigheids lering, wat God in drie persone opdeel. Ongelukkig het dit wat gepubliseer was ná die Reformasie nie deeglik met hierdie onderwerp gedeel nie. Tot in onse tyd word die tradisionele voorstellinge aanvaar. Hoe waardevol hierdie verkeerde opvattinge oor God geword het, kan gesien word deur hoe sterk hulle standpunte bepleit word. 

Om beter insig oor die onderwerp te gee sal ons onsself nou en dan wend tot die Hebreeuse woorde Elohim, Yahweh en Yahshua. Maar die werklike helderheid kom nie noodwendig uit die Hebreeus of die Grieks nie, maar slegs deur die gees wat die profete en apostels geïnspireer het. Eers dan sal ons sien wat hulle gesien het, hoor wat hulle gehoor het en verstaan soos hulle verstaan het. 

Elkeen sê waarskuwend: "Stel die geeste op die proef!" maar dan bedoel hulle andere moet dit doen, en nie hulle wie die waarskuwing rig nie. Ons moet almal egter die geleentheid gegee word om die eeue-oue geloofsleringe van die Woord op die proef te stel. Sonder dat predikers en luisteraars bewus is, word interpretasies oor die Woord van God verkondig, maar nie die oorspronklike Woord nie. Die Woord van God kan slegs deur God se gesante, manne wat in opdrag van God handel, gebring en uitgelê word aan ons; teoloë bring net interpretasies. 

Onder geen omstandighede is dit die bedoeling met hierdie uiteensetting om enige iemand spesifiek seer te maak nie. Dit gaan meerindeels daarom om die hele Gemeente van die lewende God te bedien. Behalwe dit is daar ook die kwessie oor die Jode wat hulle hoop op die God van Israel het en die Messias verwag. Uit Jerusalem het die woord uitgegaan, en dieselfde woord sal ook daarheen terugkeer. 

Mag alle lesers ryklik geseën word. 

Krefeld, Mei 1985 

Die skrywer

Next chapter